Skip to content

Stories

px

Vrou en kind ná 59 jaar gesoek

Alet Pretorius

59 jaar nadat Peter Magubane ’n ikoniese foto van Suid-Afrika in die apartheidstyd geneem het, soek hy steeds na die mense daarop.

Die foto wys ’n wit meisie wat op ’n bank met die woorde “Europeans only” daarop sit en ’n swart vrou (wat vermoedelik vir haar ouers gewerk het) wat aan die ander kant van die bank sit en met haar hare speel.

Hy het die foto geneem terwyl hy in die ryk woonbuurt Sandhurst gestap het.

“Ek hoop dinge het vir hulle verander,” het Magubane Dinsdag by die Market Photo Workshop se Living Legends-slypskool in Johannesburg gesê.

Hy en die fotograaf Omar Badsha het met studente en die fotografiese gemeenskap in Johannesburg oor fotografie en apartheid gepraat.

David Gollan, Magubane se bestuurder en vriend, sê Magubane sal graag die meisie een van die foto’s wil gee.

“Die foto is oor die wêreld heen gesien en het gewys hoe apartheid werk. Die foto spreek sterk en sy het ’n groot rol daarin gespeel.”

Hulle wil graag vasstel wie sy is, waar sy is en hoe haar lewe verloop het.

Die soektog het die afgelope twee jaar dringender geraak omdat die foto weer vanweë die uitstalling A Struggle With­out Documentation Is No Struggle publisiteit gekry het.

Magubane is bekend om sy spontane foto’s wat ’n oomblik in die geskiedenis vasvang.

) Mense met inligting oor die vroue kan Gollan kontak by amagents@hotmail.com.

px

St. Lucia-meer

Hoop op die horison

Duisende tonne sand vir R10 m. verwyder om rivier se vloei te herstel

Alet Pretorius en  Elise Tempelhoff

Die Isimangaliso-vleilandowerheid het verlede week ’n ooreenkoms van R10 miljoen met ’n ingenieursfirma aangegaan vir restourasiewerk aan die St. Lucia-meer.

Sowat 100 000 m³ sand wat die natuurlike vloei van die Um­fo­lozirivier stuit, moet uitgehaal word, sê Andrew Zaloumis, uitvoerende hoof van die ower-
heid.

Die rivier- en die meerstelsel word sedert 1952 weens menslike ingryping geskei.

Suikerboere het die Umfolozirivier afgesny van die St. Lucia-meer omdat die plek waar hulle suiker wou plant eintlik ’n reuse-vloedvlakte was. Elke keer wanneer die Umfolozi afgekom het, was hul suikerriet onder water.

Die boere het toe besluit om die rivier suidwaarts te verlê sodat dit nie meer in die meer uitmond nie.

En sedert begin 2000 werk die vleilandowerheid om die stelsel ekologies te herstel.

Mense se optrede het daartoe gelei dat spesies uitgewis is en die Tugelabank-garnaalvissery ineengestort het.

Volgens Zaloumis word baie visspesies, soos die knorder en stompneus, wat in riviermondings broei, deur die skeiding geraak. Dié vis leef in die monding, maar sandbanke sny die seelewe van die meer af. Die vis se lewensiklus word dus gebreek.

Mense is ook baie afhanklik van die monding. Meer as 80% van die huishoudings in die Mkhanyakude-gemeenskap is armoedig en net 16,5% het formele werk.

Volgens Bronwyn Coppola, woordvoerder van Isimangaliso, skep toerisme in die gebied 1 291 direkte en 7 000 indirekte poste.

Volgens Zaloumis duur die droogte daar al agt jaar. Net 30% van die meer se oppervlak is met water bedek.

Die herstelwerk sal ook die uitwerking van die droogte help versag omdat water van die Umfolozirivier tot 60% van die water aan die stelsel verskaf.

Nog R20 miljoen is nodig om die res van die versperrings te verwyder.

Isimangaliso, wat wonderwerk beteken, was Suid-Afrika se ­eerste Wêrelderfenisgebied. Die gebied is enig in sy soort en bestaan uit reekse vleie en mere.

Dié gesogte status word deur die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) toegeken. Wêreldwyd is 1 007 gebiede gelys. Hiervan is 779 van kulturele waarde en 197 uitsonderlike natuurgebiede.

px

Huiswerkers klets nie meer, speel nou sokker
Alet Pretorius
Eerder as om elke dag ná werk in die park te sit en klets het ’n groep huiswerkers van Colbyn in Pretoria besluit om met sokker fiks en gesond te word.
Aanvanklik het hulle net ’n sokkerbal in die park rondgeskop, maar gou mnre. Fanie Maluleka, ’n tuinwerker van die gebied, en Maandag Hiliza, ’n plaaslike bouer, gekry om “meer professionele aandag” aan hul sokkerspel te gee.
Maluleka is van Mpumalanga waar hy self gereeld sokker gespeel het. Volgens hom kry hy in Pretoria min die geleentheid om self te speel, maar hy geniet dit baie om die vroue af te rig.
“Hulle ken die reëls van die spel juis omdat hulle lief is daarvoor om sokker op TV te kyk. Ek en Maandag leer hulle balvaardighede en kry hulle fiks.
“Hulle raak elke dag beter. Ons beplan om wedstryde teen ander vroue van ander gebiede, soos Waterkloof, Lynnwood en Queenswood, te reël.”
Sy sokkerspan bestaan uit
20 vroue wie se ouderdomme van 8 tot 67 wissel. Hulle oefen daagliks ’n uur lank ná werk. Saterdae en Sondae speel hulle sokkerwedstryde.
Volgens me. Freda Moche (50) volg die vroue al meer as ’n maand lank ’n strawwe oefenprogram.
“Almal se hoë bloeddruk is af, die geswelde voete lyk beter en probleme met suikersiekte is iets van die verlede.”
Hul “noodhulpbeampte” is me. Cynthia Lekuleni (55), ’n huiswerker wat die taak sonder enige formele opleiding verrig.
Die sokkerspan sukkel om verbande en spiersalf te bekostig. Sokkerdrag het hulle ook nog nie. Die meeste vroue speel in hul oorpakke. Party speel kaalvoet, ander met vellies.

Mee. Helen Kgomontsho (43) en Miriam Guga (54) mee ding om ’n bal terwyl hulle opwarmingsoefeninge doen voordat hul sokkerwedstryd begin.

Mnr. Fanie Maluleka saam met die vrouesokkerspan bestaande uit huiswerkers van die gebied wat hy elke middag in ’n park afrig.Foto’s: Alet Pretorius

px

Anton Erasmus moes in ’n motor­ongeluk gesterf het. Albei sy arms en bene was verlam. Alet Pretorius het die foto’s geneem en vertel die verhaal van sy merkwaardige herstel.
Met genade gaan lewe aan.
Besluit: ‘Ek wil voor die end van die week loop’

Vir Anton Erasmus, ’n 42-jarige plaasbestuurder van Koster in Noordwes, het die lewe ’n wrede gekkedag-poets gebak.
Op 1 April, op ’n plaaspad in die omgewing waar hy werk, het hy in ’n ander boer se bakkie vasgery. Hy het ’n fraktuur tussen sy eerste en tweede nekwerwel opgedoen.
In mediese terme was hy ’n kwadrupleeg, iemand wat in al vier ledemate verlam is.
“Die dokter het aan my gesê ek het ’n tweede kans gekry. Pasiënte met sulke beserings gaan gewoonlik reguit lykhuis toe,” sê Anton.
Die pad na herstel was lank.
Ná meer as drie weke in die Unitas-hospitaal in Centurion het hy geleidelik die gevoel in sy arms begin terugkry.
Hospitaalpersoneel het hom gehelp om self regop te sit en eers toe “het ek begin glo ek sal weer kan loop”.
Hy het vroeg reeds besef sy herstel gaan van hom en sy gesindheid afhang.
“Die dokter het aan my gesê hy het als gedoen wat hy kon. Die res hang van my en die Here se genade af. Ek moes die kopskuif maak om positief te bly en die wilskrag hê om die herstelproses te láát werk.”

Op 7 Mei is Anton na die Muelmed-hospitaal se rehabilitasie-eenheid (J@M) oorgeplaas.
“Die hospitaal word deel van jou lewe en die invloed wat hulle op jou het is permanent. Die Here het my ’n tweede kans gegee, maar hulle (dr. Francois Theron en die span by die Muelmed-rehabilitasiesentrum) het my ’n beter kans op ’n lewe gegee.”
Sy vrou, Susan, moes dikwels alleen die druk hanteer. “Sy’t gesê ek moet net konsentreer op my herstel.
“My Christenskap was nog altyd vir my baie belangrik, maar in dié tyd het dit selfs meer verdiep. Jy moet iets hê om aan vas te hou.”

Drie weke nadat die rehabilitasie begin het, is hy vir die eerste keer huis toe. “Dit was ’n aanpassing. Jou huis is nie rolstoelvriendelik nie.”
Ook vir sy kinders, Frans (10) en San-Marie (7), was dit ’n groot aanpassing.
“Ek het eenkeer die bank uit frustrasie geskop nadat ek daar vasgesit het. Frans het my net met sulke groot oë aangestaar.”
Sy kinders was ook ’n inspirasie. “Toe ek van die huis teruggekom het, het ek aan Colett Robberts, fisioterapeut, gesê maak nie saak wat ons doen nie: Ek wil voor die einde van die week loop.”
Anton is die volgende naweek wéér huis toe. Dié keer het sy rolstoel die hele naweek in die motor agtergebly . . .
Sy besering ten spyt, boerdery en ’n liefde vir die grond het in Anton se bloed gebly. “Dit was nie lekker dat ek gehelp het om plantjies in die grond te sit, maar nie by kon wees toe hulle gestroop het nie.”
Anton is op 3 Julie uit die Muelmed-hospitaal ontslaan.
Op 1 Augustus was hy permanent terug in sy pos as plaasbestuurder. Anton se regterhand het nou al sowat 50% herstel, maar by die werk pla dit weinig. Hy sukkel om te skryf en op sy vrou se verjaardag het dit hom bykans ’n uur geneem om “Ek is lief vir jou” te skryf.
Anton se balans is ook nog nie 100% nie. Hy vertel hoe hy deur ’n draad op die plaas probeer klim en netjies op sy alie beland het.
“ ’n Mens se menswaardigheid kry so nou en dan ’n knou.
“Mense wat nie in wonderwerke glo nie moet net ’n week deurbring in die Muelmed-rehabilitasiesentrum se gimnasium.
“Ek wil aan mense wat so iets oorkom sê om nooit op te gee nie. Met die regte gesindheid en die Here se genade gaan die lewe aan.”
Deur Alet Pretorius

 

px

Santana
Alet Pretorius
“Die hemele het respek vir ons én het respek vir San-tana,” het Johnny Clegg gesê toe die deurdringende reën wat Saterdagmiddag oor Gauteng begin uitsak het in die ENB-stadion ’n blaaskans gegee het net voor die Mexikaanse kitaarlegende op die verhoog verskyn het.
Miskien was dit die aartsengel Metatron se invloed, want Carlos Santana hét immers sulke vriende in hoë plekke. Hy beweer mos dit is Metatron wat opdrag gegee het om sy ikoniese album Supernatural te maak.
Ten spyte van die weer het die gehoor begeesterd op sy verskyning gewag – baie van hulle gewapen met fedora en snor.
Toe Santana en sy tienstuks orkes op die verhoog verskyn, het hulle afgeskop met ’n perkussiegedrewe inleiding, maar vir die res van die aand het dit alles oor die kitaar gegaan.
’n Mens kon die kenmerkende klank van sy Paul Reed Smith-kitaar reeds met die eerste note eien.
Santana huiwer nie om ander kunstenaars se kalwers deel van sy kudde te maak nie. “While My Guitar Gently Weeps” van The Beatles het net die kitaar tydens ’n keurspel laat huil. Vir die gehoor was dit ’n welkome toegif.
So ook The Police se “Roxanne”.
Maar so ken ons mos vir Santana. Hy kombineer verskillende musiekstyle, voeg sy eie interpretasie by, klits dit op met Engels en Spaans en dis ’n nuwe genre op.
Fabulous Thunderbirds se “Tuff Enough” het gesorg vir ’n blye ontmoeting tussen Zoeloe-Afrika en Latyns-Amerika toe Johnny Clegg en sy orkes die verhoog met Santana en Kie. kom deel het.
Die groot jammerte is dat die musiek die voete laat jeuk het, maar daar was nie plek om te dans nie.
Vir Santana was dit een te veel toe die veiligheids-beamptes mense wou keer om voor die verhoog te dans. “Sonder hierdie mense het julle nie ’n werk nie en sonder hierdie mense het ek nie ’n konsert nie. As hulle wil dans, laat hulle dans,” het hy hulle berispe.
Van Santana se groot treffers soos “Black Magic Women”, “Oye como va”, “Maria Maria” en “Smooth” het mense sommer by hulle stoele laat dans.
Om die volle trefkrag van Santana se musiek te ervaar, moet jy op ’n plek wees waar jy ’n sigaar kan rook en ’n drankie met ’n sambreeltjie kan bestel.
As deel van die encore is die horlosie teruggedraai met ’n Woodstock-medley. Dit was hier waar die jong Santana in 1969 sy deurbraak gehad het. In die agtergrond het beeldmate- riaal van dié konsert gewys die tyd het dalk verloop, maar Santana is in hart en siel nog dieselfde.
Die gehoor het geglimlag. En êrens het ’n engel ook.

Carlos Santana en Johnny Clegg Saterdag saam op die verhoog in die ENB-stadion in Johannesburg. Foto: Theana Breugem
laat die mense dans

go

A perfect day in Pretoria

px

Fotograwe wil ‘eerlike beeld gee’ van SA ná 20 j.

Alet Pretorius en Anna-Retha Bouwer

Drie jong fotograwe wat Suid-Afrika se 20 jaar van demokrasie deur hul kameralense wil vertel, vertrek vandag uit Kaapstad na Knysna vir die volgende deel van ’n opwindende foto-toer.

Wikus de Wet, Sean Metelerkamp en Sipho Mpongo is besig om vir vier maande met ’n kampeervoertuig deur die land te reis en veral by kleiner dorpies en plekkies stil te hou.

Die projek heet Twenty Journey.

Die fotograwe het reeds by etlike plekke in en om die Moederstad stilgehou om foto’s te neem.

“ ’n Mens kan 2014 beskou as ’n nuwe hoofstuk in die land se geskiedenis. Dit is 20 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing en dit verteenwoordig die begin van die tydperk ná die dood van Nelson Mandela,” meen Du Toit.

Die fotograwe se mikpunt is om ’n eerlike beeld te gee van hoe die land nou lyk.

Die saadjie vir die idee is geplant nadat De Wet en Metelerkamp vroeër ’n fotoreis van tien dae deur Bloemfontein, Potchefstroom, Bothaville, Orania en Johannesburg onderneem het. Hierdie keer wil hulle die hele land insluit.

De Wet sê hoewel hulle ’n basiese reisplan het, wil hulle nie te veel daarby hou nie en hoop om gereeld af te dwaal en nuwe plekke te verken.

Die fotograwe het verskillende agtergronde.

Metelerkamp het ondervinding in die musiekbedryf, De Wet het al as vryskut vir Media24 gewerk en Mpongo is ’n fotografiestudent.

Volgens De Wet sal elke fotograaf tydens die reis op iets anders fokus. De Wet ondersoek die verhouding wat mense het met die grond, waarop hulle woon en werk. Volgens hom is toegang tot grond steeds ’n groot probleem in Suid-Afrika op ’n ekonomiese, maatskaplike en kulturele vlak.

Metelerkamp gaan straatfotografie gebruik om uit te wys wat hy die “absurditeit en diversiteit” van Suid-Afrika noem. Mpongo, ’n sogenaamde “vrygeborene” wat ná 1994 gebore is, gaan op sy generasie fokus.

Hul foto’s en stories is op ’n aanlyn-visueledagboek by twentyjourney.com beskikbaar.

Klankgrepe, video’s en ’n kaart wat aandui waar hulle oral was, is ook hier te sien.

’n Uitstalling van die foto’s wat hulle tydens die projek neem begin op 15 Januarie in die Commune.1-galery in Kaapstad.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: