Skip to content

Tranquilo, tranquilo!

We visited Argentina in January 2010 and spent one day on horseback in the Pategonia landscape. Naweek+ in Beeld published a story about this adventure.

The story as it appeared in Naweek+


The pictures:








The story:

Die helder rivier wat oor gladde spoelklippe tussendeur die berge en rotsformasies in Patagonië, Argentinië, loop, herinner baie aan die Amerika wat die meeste van ons in cowboy-flieks leer ken het. ALET PRETORIUS het dié plattelandse omgewing naby San Carlos de Bariloche op ’n perd se rug verken.

Soos wafferse cowboy deur pragtige landskap

‘Tranquilo, tranquilo!” verseker die reisagent in Bariloche, Argentinië, ons op ons vraag of dié perdry-uitstappie ook vir beginners is. Ons vat sy woord hiervoor (en ons voel avontuurlustig) en bespreek vir ons ’n plek. Die volgende oggend kom laai ’n 4×4 (kompleet met ’n verwarmer – waarop die tradisionele Argentynse drankie mate warm gehou word) ons voor die hotel in San Carlos de Bariloche op.

Dié dorp dien as ’n gemaklike basis vir uitstappies na die omliggende ongetemde platteland.
Die enigste tekens van beskawing wat ons langs die pad sien, is ’n man wat in ’n stroom water met sy kunshengel-toerusting staan. So ’n entjie verder – waar hy sy tentjie opgeslaan het – brand ’n vuur waarop die vis wat hy gaan vang sekerlik later gebraai gaan word. Daar is ook een of twee eenvoudige plaashuisies in die verte.

Ná ’n uur se geskud agter in die 4×4 kom ons by die plaas aan. Daar’s twee klein houthuisies, ’n buite-kombuis onder ’n baie groot boom, ’n paar hoenders op die werf en die groot oop veld vir die perde. Onder die boom is ’n gaucho (Argentynse cowboy) besig om vuur te maak. Hy is geklee in leerstewels, gemaklike katoenklere en ’n kleurvolle geweefde gordel waarin ’n groot silwer mes gesteek is.

Die gids, Frederico, begin die perde gereed kry terwyl ons maar bra senuweeagtig rondstaan. Sonder seremonie word elkeen van ons op ’n perd “gepak”. Frederico is ’n baie ervare ruiter, maar van sy Engels kan allermins dieselfde gesê word. Ons Spaans is boonop beperk tot groet – en wyn en biefstuk bestel. En daar, sonder enige formele aanwysings, begin die perde Frederico en mekaar volg.

Binne die eerste tien minute besluit my perd om summier ’n groep wilde perde te volg teen ’n spoed wat dit vir my onmoontlik maak om bo-op die perd se rug te bly vasklou. My waardigheid is egter baie erger beseer as die res van my lyf, en ek neem die (baie moeilike) besluit om terug op te klim en verder te ry. Terwyl ons deur die pragtige omgewing ry, wonder ek heeltyd of my reisversekering perdry-beserings insluit …

Die plat grasvelde verander geleidelik in klipperige bergpaadjies. Die rit tot bo-op een van die koppies is vreesaanjaend, maar die panoramiese uitsig maak op vir die tog soontoe. Die rit af is baie ongemaklik: tot ek besef jy is veronderstel om agtertoe te leun as jy afdraande ry …

Ek is verlig toe ons weer die houthuisie sien en ek my voete op die grond kan plant. Dáár wag vir ons ’n tradisionele asado (braai) vir middagete. Ons is al redelik versadig ná die voorgereg van moronga of morcilla (bloedwors), chorizo (speserywors), mollejas en entranas (ingewande) en slaai toe die hoofgereg van gebraaide hoender en hompe beesvleis nadergebring word. Asof dit nie genoeg is nie, moet ons nog plek maak vir die nagereg – panettone en ander soetgebak.

Ná middagete pak ons die tweede deel van die rit aan en ek voel aansienlik gemakliker op die perd. Ek weet nie of dit is omdat ek besef dat ek die perd kan beheer met die leisels, en of dit dalk meer te doen het met die Quilmes (plaaslike bier) wat ons saam met middagete gedrink het nie. Ieder geval – die uitsig word net al hoe mooier. Die helder rivier wat oor gladde spoelklippe tussendeur die berge en rotsformasies loop herinner baie aan die Amerika wat die meeste van ons in cowboy-flieks leer ken het.

Teen dié tyd voel ek in elk geval soos die ster in my éie cowboy-fliek. Ek kan die perd behendig lei na waar ék wil ry en versigtig aanspoor om effens vinniger te beweeg. Ons galop selfs deur ’n rivier en kom lewend anderkant uit. Maar net om jou te herinner dat die perd stééds ’n wil van sy eie het, loop hy so nou en dan onderdeur ’n lae boom en moet jy koes dat die boom jou nie van die perd af vee nie.

Die tweede rit gaan veels te vinnig verby en almal is half spyt die avontuur is op ’n einde.

* Praat saam
*Tranquilo – kalm, rustig, vreedsaam of ’n tussenwerpsel wat ontspan beteken.
*Mate – Tradisionele Argentynse drankie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Enter your email address to follow this blog and receive notifications of new posts by email.

Painting

Twitter Updates

Error: Twitter did not respond. Please wait a few minutes and refresh this page.

Categories

Archives

%d bloggers like this: